Sport

Gallie gees is groot!

Atletiek

Die Atletiekseisoen skop af in Januarie-maand met ‘n Huissport-byeenkoms. Leerders word verdeel in 3 spanne naamlik – Oranje; Groen en Witspan. Leerders wat nie deel is van die atletiekspan nie, kry geleentheid om op die paviljoen te sing en mee te ding vir die Geesbeker. Ons neem deel aan vriendskaplike byeenkomste om die Gallie-atlete voor te berei vir die Cluster, Distrik en Gauteng-Noord byeenkomste.

Rugby

Laerskool Magalieskruin streef daarna om elke seun tot sy volle potensiaal te ontwikkel as ‘n rugbyspeler. As deel van die A-Bond, streef ons daarna om goeie kompetisie te wees en ons stempel af te druk. U kan verseker wees van top gehalte afrigting en ondersteuning van onderwysers sowel as ouers. Ons as skool vat hande saam met ons ouers om die seuns se potensiaal optimaal te ontwikkel. Ons neem elke jaar deel aan die gesogte Wildeklawer toernooi wat in Kimberley plaasvind. Daar word skouers geskuur met bekende skole soos Grey College en Paarl Gimnasium. U seun sal blootstelling kry op die hoogste vlak van Laerskole rugby. Laerskool Magalieskruin bied O/6 tot O/8 bulletjierugby aan wat spelers ontwikkel van ‘n bulletjie tot ‘n BUL!

Krieket

Laerskool Magalieskruin glo aan ontwikkeling van die leerders. Laerskool Magalieskruin bied krieket aan vir alle ouderdomme, seuns en dogters is welkom. Ons ideaal is om krieket-etiket by spelers te kweek, om te verseker dat hulle gedrag op en langs die veld goed en aanvaarbaar is

– Junior spanne: o/7 leerders speel vir die o/9C span.

– Die o/8 leerders speel vir die o/9B span. Beide die spanne speel reeds op ‘n standaard krieketveld en kry van ‘n vroeë ouderdom af blootstelling. Die o/9, o/10 en o/11 spanne vorm ook deel van die skool se Junior spanne.

– Die skool se Senior spanne bestaan uit O/12A en O/13A.

Ons A-spanne neem deel in die grootskole A2 Liga.

Landloop

Die landloopseisoen begin in die Derde Kwartaal. Die atlete neem aan 3 ligas deel wat onderskeidelik op Vrydaemiddae plaasvind. Die eerste 12 atlete per ouderdomsgroep word gekies vir die GN-landloopspan. Die klem word sterk geplaas op genot en elke atleet word aangemoedig om teen hom/haarself te kompeteer.

Netbal

By Laerskool Magalieskruin streef ons daarna om die netbalvaardighede van elke deelnemende dogter te bevorder. Aangesien netbal die grootste sport vir dogters by ons skool is, doen ons alles in ons vermoë om op ‘n baie vroeë staduim reeds die basiese vaardighede vir elke dogter aan te leer. Elke afrigter voldoen aan hoë kwalifikasies wat jaarliks verbeter word. U dogter is in goeie hande tydens elke seisoen.

By Laerskool Magalieskruin is elke dogter ‘n WENNER!!!

Swem

Laerskool Magalieskruin het dalk nie ‘n swembad nie, maar het ‘n “sopnat” swemspan! Elke Oktober maand heers daar groot opgewondenheid in Gallieland vir ons Interhuis swemgala. Die hele skool word uitgenooi vir ‘n jaarlikse interhuis-gala waar almal die geleentheid gebied word om deel te neem en sodoende die kans te staan om deel te word van die skool se swemspan. Swemmers wat nie by privaat klubs aangesluit is nie, word die geleentheid gebied om by Just Swim te oefen. In die vierde kwartaal is ons besig om te kompeteer teen ander skole. Aan die begin van elke jaar aanvaar ons uitnodigings om vriendskaplik deel te neem vir goeie sportmangees.

Ons hou styf vinne vas om jou daar te sien!

Skaak

Die skaakoefeninge vind op Maandae plaas. Die skaakuitdunne vir die ligaspanne vind plaas in die eerste kwartaal tydens ‘n skaaktoernooi. Dit is baie belangrik dat alle voornemende skaakspelers aan hierdie skaaktoernooi sal deelneem. Die ligawedstryde vind plaas gedurende die tweede kwartaal. Indien daar ouers is wat bereid is om te help met afrigting of net raad wil gee, is u welkom om ons te kontak.

Hokkie

By Gallieland is die hokkie bobaas. Al ons afrigters is goed opgelei en deel ‘n liefde en passie vir die sport. Ons poog om die dogters goed voor te berei sodat hulle met uitstekende vaardighede en kennis van die spel, hokkie in die hoërskool kan aandurf. Ons het tans 10 Minihokkie-spanne en 8 Liga-spanne wat ons skool se naam hoog hou op die hokkieveld

Tennis

Kom neem deel aan die formele en informele tennis by Laerskool Magalieskruin. Die skool se tennisliga spanne speel in die 1ste en 3de kwartaal ligawedstryde teen ander skole. Daar is Oop Seuns- en Dogter spanne asook O/11 Seuns- en Dogter spanne wat deelneem aan die liga. Die spanne oefen voor skool en word dan deur ons professionele afrigtingspan afgerig tydens die ligakwartale. Gedurende die 2de kwartaal vind daagwedstryde plaas waartydens leerlinge hul posisies kan verbeter op die tennisleer. Die skool se tenniskampioenskappe en daaropvolgende daagtydperk vind in die 4de kwartaal plaas. Alle beginners van graad 1-7 is welkom om in die 3de kwartaal aan die tennis deel te neem.

GALLIE TENNIS IS BESLIS ‘N MOET